Besoek www.sacronavirus.co.za vir meer inligting.

VERDERE INLIGTING OOR DIE NUWE SEISOEN

Beste Tweekampers

Soos in my skrywe van 30 Oktober aangedui sou die huidige Tweekamp bestuur vergader op 2 November om te besin oor die res van die jaar.

Tydens die vergadering is besluit dat indien fasiliteite bekom kan word ons sal poog om nog 2 byeenkoms die jaar aan te bied.

Ons was gelukkig om met Bonnievale en Citrusdal reg te kom. Die beplanning is dan dat ons op 5 Desember ‘n byeenkomste in Bonnievale sal aanbied en op 12 Desember in Citrusdal.

Die byeenkomste kan uiteraard net aangebied word as daar by die regulasies soos voorgeskryf, gehou kan word. Van die belangrikste regulasies wat ‘n impak op so ‘n byeenkoms gaan hê is dat daar nie toeskouers mag wees nie, dat daar voldoen word aan sosiale afstand, sanitering, die dra van maskers en dat almal vooraf hulle status ten opsigte van Covid 19 simptome bevestig. Die laaste vier sal volgens my redelik maklik hanteer kan word. Die toeskouers aangeleentheid bly maar ‘n probleem en sal uiteraard baie goed bestuur moet word. Geen ouer/toeskouers sal op die pawiljoene en binne die omheining van die swembad of die atletiekbaan toegelaat word nie. Tydens die hardloop en swem sal ouers hulle dan so moet plaas dat hulle nie as toeskouers gesien word nie. Vir die doel sal mense dan maar iewers moet “rond hang”.

‘n Kennisgewing omtrent die byeenkomste sal soos in die verlede weer uitgestuur word en sal op die Boland webwerf wees. Inskrywings sal vooraf gedoen moet word en die sluitingsdatum sal dan ook die Woensdag om 19h00 voor die byeenkoms wees.

Ons beplanning vir die res van die seisoen (uiteraard afhangend van die beskikbaarheid van fasiliteite en wat verder met Covid gaan gebeur) is dat ‘n verdere 4 byeenkomste beplan word vir die eerste helfte van 2021. Die voorlopige beplanning is dat byeenkomste aangebied sal word op:-

  • 16 Januarie
  • 30 Januarie
  • 13 Februarie
  • 20 Februarie (wat ook die Boland kampioenskappe sal wees).

Waar die byeenkomste aangebied gaan word sal dan later deurgegee word sodra daar meer duidelikheid is oor die status van Covid en die beskikbaarheid van fasiliteite.

Ek wil dan ook weer almal net herinner aan die AJV van 30 November 2020. Die inligting hieromtrent is al uitgegee en is op die webwerf beskikbaar.

Intussen is Bolanders welkom om by WP deel te neem as besoekers indien hulle ons kan akkommodeer. Ons sal uiteraard by hulle protokolle, versoeke, kostes en vereistes moet aanpas.

Almal moet egter bewus wees dat die normaal ongelukkig nie soos in die verlede gaan wees nie en dat almal daarby sal moet aanpas. Tyd sal ons ook leer en ons sal uiteraard aanpassings maak soos ons aangaan.

Indien daar enige onduidelikheid is, as meer inligting verlang word of as daar voorstelle/wysheid is, kontak my asseblief.

Vriendelike groete

Len Symington

11 November 2020

Go to top